
Andriëtte Norman
Andriëtte het Afrikaanse musiekliefhebbers oorrompel en vroeg reeds in haar loopbaan sukses
behaal.
Nadat Andriëtte Norman in 2007 as naaswenner in die Suid-Afrikaanse TV-sangkompetisie
Idols geeïndig het, het haar debuutalbum, Diamant, in 2008 die rakke getref.
Andriëtte het Afrikaanse musiekliefhebbers oorrompel en vroeg reeds in haar loopbaan sukses
behaal. Sy palm ’n Vonk-toekenning in die afdeling Beste Kontemporêre Vroulike album, vir
Diamant, in 2008 in. Dink Aan My word in 2009 vrygestel met Vat My Hoër, in 2011, Wat Rym Met Liefde in 2013, en Pêrel vir ‘n Kroon in 2015.
“My kinderjare was baie gelukkig en ek het baie herinneringe van rugby en krieket speel saam
met my broer. Op laerskool het die die sanggogga my gebyt en die koorjuffrou het my voor laat
staan en ’n mikrofoon gegee,” het sy vertel.
Volgens haar was dit juis op daardie oomblik dat sy geweet het sy wil nét sing.
Nou, met ses albums later, is sy een van die gewildste Afrikaanse kunstenaars wat gereeld by
groot feeste en op groot verhoë, soos dié met die Krone-konserte, gesien kan word.
Andriëtte het na skool eers haarself in die skoonheidsbedryf bekwaam en was self ook al
eienaar van ’n klerewinkel. Sy is verder ’n geleentheidsbestuurder en beoefen deesdae
voedselkunde as ’n stokperdjie. Sy beskryf haarself as humoristies.
“Ek hou daarvan om mense te laat lag, maar ek kan ook baie ernstig en diep wees. Oor die
algemeen is daar maar altyd ’n glimlag op my gesig en ek hou van met mense gesels,” vertel sy.
In ’n baie kompeterende Afrikaanse musiekbedryf het sy veral groot dankbaarheid teenoor
Theuns Jordaan. “Theuns het net na Idols my onder sy vlerk geneem en my laat optree saam
met hom. Dit sal ek nooit vergeet nie,” het sy vertel.
Andriëtte het drie seuns wat haar lekker besig hou.
“Ek werk tans aan nuwe materiaal en ook aan myself. ’n Gesonder, gelukkiger ek.”
As sy nou in ’n glasbal kon kyk en haarself oor twintig jaar sien, sou sy graag iemand wou sien
wat die lewe met volle oorgawe aangepak het en nie op een kans uitgemis het nie. “As ek nog
kan doen waarvoor ek lief is, sing en optree, is dit ’n bonus. Ek hoop ook daar is iewers ’n
Engelse treffer op my pad.”