
Hoezitsamelewing (Francois Boyce)
Ek het nog altyd geglo as jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Met hierdie mentaliteit, het my drome soms mense om my baie gespanne laat voel, maar sou definitief ander dromers, soos ek, opgewonde maak.
In 2009, kry ek ‘n droom – ‘n kaart van Suid-Afrika, met sy miljoene liggies. Die Here maak dit toe aan my duidelik dat ek by daardie “liggies” gaan uitkom. My eerste gedagte was hardloop. Hierdie is die verkeerde droom vir die verkeerde persoon. Nietemin, het hierdie droom op my begin groei en het ek hierdie droom met elke sel in my liggaam begin najaag. Die hoe, waar en wanneer was ‘n bysaak.
Ek besef toe die Here het my geseën met ‘n talent waar ek weet hoe om noot te hou en so het die droom begin waar ek by feeste en konserte begin optree het. Ek het selfs my lyf seremoniemeester gehou. Na ‘n tyd het ek ook besef dat ek ‘n sterk begeerte in my hart het om met kinders te werk. Ek begin toe ‘n kinderproduksie genaamd, Franna.
Nou, as jy my ken, sal jy weet, dat ek nog altyd ‘n lus en passie vir die lewe gehad het en nog altyd ‘n storie op ‘n humoristiese manier kom vertel. Tydens Lockdown moes alle vertonings en produksies stop. My eerste gedagte was, ”Hoe gaan ek nou by die “liggies” uitkom?”
Ek kry toe ‘n Ah-ha oomblik waar ek besef, ek het ‘n selfoon, ek het internet, en ek het ‘n kommen persoonlikheid. Net daar, is Hoezit Samelewing gebore.
Francois doen die volgende vertonings:
5 Vrouens & Ek
Francois gesels oor 5 vrouens wat ‘n ongelooflike rol in sy lewe speel. Hierdie 5 vrouens (gewone vrouens) het elkeen ‘n ander inspirerende lewensles. Maar as jy vir Francois ken, kom hierdie les met ‘n wilde draai na jou toe. Jy gaan lag, huil en dink, alles sommer so in een. Francois sing tussen deur die storie en kry selfs elke dame op hulle voete gedurende die vertoning wat baie vermaak verskaf.
Stap in Styl
Daar is net iets aan ‘n vrou en skoene. So gaan maak Francois ‘n draai in 4 verskillende skoene, maar elkeen het ‘n ander storie om te vertel. Emosie belaaid vat Francois elke dame op ‘n reis met die skoene om hulle by ‘n baie inspirerende gedagte te los. Soos altyd word daar gedans, gesing, gelag, gehuil en in styl daar wegstap.
Ek, ‘n Tent & Oorlog
Waar kry jy die lekkerste storie? By geen ander plek as wanneer jy gaan kamp nie. Dit is so, kamp is nie vir almal nie, dit is juis hoekom die stories so goed is. Francois gaan kuier by 4 kamp plekke. Hier gaan jy lag, nostalgie en selfs ‘n inspirerende gedagte kry. Met lekker bekende musiek waar jy kan saamsing, dans en lekker ontspan, gaan jy ‘n onvergeetlike tyd hê saam met Francois.
Franna
Franna is ‘n 10 jarige seuntjie, wat gespeel word deur Francois Boyce. Hy vertel ‘n storie, laat die maats dans soos wat net hy kan. Met baie energie gaan die jongspan gaan kuier in Lemmerland, waar almal gemaak is van hout. In die dorp is daar ‘n seun wat graag wil inpas, maar kry dit net nie reg nie. Hy ontmoet op ‘n dag ‘n maat wat hom na die poppemaker toe lei, daar leer hy meer oor homself en wie se opinie regtig saak maak.