
Lizz Meiring
Motiveringspreker – Eenvrouvertonings – Afslaer– Seremoniemeester.
As jy nog nooit ‘n bondeltjie energie gesien het nie, hier is een
Lizz Meiring het meer energie en lewenslus as ‘n hele netbalspan saam, en sou jy genoeg tyd in haar geselskap deurbring, sal jy verstaan waarom!
Die vermaakliheidsbedryf noem haar nie verniet Bizzie Lizzie nie want stilsit en stilbly kan sy nie! Haar talente is so in oormaat soos haar lewenslus. Van Lady Macbeth tot ‘n pop-up toaster – sy’t al als gespeel en in 2025 is sy terug met ‘n rits nuwe projekte waarna gehore kan uitsien.
In die nuutste produksie “Die Real Housewife” skep Lizz Meiring vir haarself ‘n fiktiewe karakter wat haarself beskou as die enigste regte, onmiskenbare voorbeeld van die glansgans-sosiale kring. Sy is dié “real deal” volgens haar eie standaarde – die tipe vrou wat met oorgawe in haar Dolce & Gabbana-skoene stap, asof sy met elke tree by ‘n luukse mode-skou is.
Maar wees gewaarsku – hoewel sy haarself as die “real housewife” beskou, is sy vol humor en dis daarom dat die gehoor onmiddellik weet: hierdie is glad nie die tipiese “high society” dame wat jy dalk verwag het nie.
In hierdie splinternuwe solostuk, waarin Lizz haar eiesoortige karakterskildery op die verhoog bring, gaan jy jou dikwels aan die lag vang, en dalk sal jy jou kop skud van verbasing. Dit is die soort humor wat nie net spot met die “realiteit tv” sterre nie, maar hulle ook op die spits dryf! Jy kan nie anders nie – jy begin dalk jou eie stereotipes van daardie “perfekte” vrou en haar wêreld oordink. En, net dalk, herken jy iets van jouself of dalk ‘n vriendin wat in heelwat van die situasies van die karakter pas.
‘n Meer bekwame seremoniemeesteres sal jy ook nie sommer kry nie. Haar deeglike navorsing oor elke maatskappy of instansie wat haar bespreek, stel haar in staat om elkeen spesiaal te laat voel. Dit is juis die persoonlike aandag aan kliënte wat haar so uiters gewild en in aanvraag maak!
Omdat gesels vir haar so lekkerrrr is, is dit ook nie vreemd dat Lizz Meiring haarself as professionele afslaer gekwalifiseer het nie. Sy is ‘n lid van die SA College of Auctioneers. Elke veiling word in tipiese Lizz Meiring “celebrity style” gedoen. Dit is beslis “veiling hou” met ‘n verskil!
Niemand ontsnap Lizz Meiring die afslaer se aanslag nie en selfs die moeilikste koper moet uiteindelik swig onder haar oorredingsvermoë.
Lizz staan onomwonde en entoesiasties in die kunste en vermaaklikheidsbedryf bekend as aktrise, teaterregisseur, vervaardiger, stemkunstenaar, TV aanbieder, film- en teksskrywer, gekwalifiseerde afslaer, spreker en seremoniemeester.
Haar lewe is ‘n fees en sy deel dit graag met enige persoon wat bereid is om te luister.
En dit in kort, is LIZZ MEIRING – die perfekte keuse vir ‘n damesoggend, fondsinsameling of korporatiewe funksie!