
Theresa Bam
Therese se motto: Om nooit spyt te wees nie, om uit my foute te leer en oop te wees vir alle geleenthede sodat ek die beste weergawe van myself kan wees. Om altyd geluk te probeer vind!
Therese Bam is die jongste van drie kinders. Sy het groot geword in Kwa-Zulu Natal, drama geswot in Bloemfontein, en haar tande geslyp in Londen.
Sy het as aktrise haar “lucky break” gehad in die vroeë 2000’s toe sy die titelrol as Katryn vertolk het in die kykNET-dramareeks Song vir Katryn, wat ook later op M-Net en SABC2 uitgesaai is.
Daarna volg rolle in sepies soos 7de Laan, Villa Rosa en Suidooster. Ander reekse sluit in SABC1 se bekroonde Home Affairs, Dryfsand, Kompleks en die nuwe Showmax sensasie, Wyfie.
Therese het al ‘n rits toekennings ontvang soos die Afrikoon Toekenning by die ATKV, SAFTA vir beste ondersteunende aktrise in Home Affairs en Royal Soapie Toekenning vir haar rol in Vila Rosa, om maar net enkeles te noem.
Therese Bam se werk op die kykNET program Kwêla is vir haar ’n groot hoogtepunt. Haar verwysingsraamwerk het ongelooflik verbreed en elke storie verryk haar lewe, vertel Therese, wat reeds 16 jaar lank veldaanbieder op dié program is.
Sy geniet dit om voor die kameras te wees, maar die uitdagings en druk agter die skerms hou haar kop aan die gang. “Ek hou van probleme oplos en dis iets wat jy dikwels in produksie moet doen. Boonop is ek nuuskierig van aard – ek wil verstaan hoe dinge werk en is altyd dankbaar vir kanse om meer oor die bedryf te leer”.
Therese het ’n broertjie dood aan onregverdigheid, oningeligtheid en arrogansie. Ook aan die selfbeheptheid wat met sosiale media gepaard gaan en byna ongemerk in een van die grootste siektes van die moderne lewe ontaard het.
Met die weerloses het sy oneindige deernis en sy is ambassadeur vir Huis Jabes in Bellville, Kaapstad, wat ’n heenkome vir slagoffers van gesinsgeweld bied.
Tans is “mamma” sekerlik die woord wat sy die meeste hoor en een van die mooistes wat sy ken. Haar man, die argitek Christian Bam, en hul woelige blondekopseuntjie, Jack, is haar kroonjuwele, vertel dié gewilde aktrise.
Therese is ‘n uiters gewilde motiveringspreker en ook brilljante seremoniemeester. Te oordeel aan haar uitkyk op die toekoms kan ‘n mens verstaan waarom sy so gewild is.
Therese se boodskap aan jongmense: “Droom groot, en waag om te misluk! Jy moet verantwoordelikheid vir jou lewe aanvaar. Altyd en in alles wat jy doen. Respekteer ander – veral wanneer tye moeilik is.”
Self droom Therese oor ‘n wêreld gevul met onvoorwaardelike liefde, strate waar kinders veilig kan fietsry en speel, ‘n einde aan armoede en ‘n nasie waarvan sy kinders die eerste prioriteit is.
Therese se motto: Om nooit spyt te wees nie, om uit my foute te leer en oop te wees vir alle geleenthede sodat ek die beste weergawe van myself kan wees. Om altyd geluk te probeer vind!
Dit alleen is meer as genoeg rede om Therese Bam te bespreek as ‘n motiveringspreker of seremoniemeester wat graag ander inspireer om saam te droom oor die lewe!