Artist Warehouse

Ouderdoos met logos

Ouderdoos

“Ons wil hê dat ‘n 15- en 75-jarige ewe lekker moet luister na ons musiek!”

In 2015 ry ‘n groep vriende saam in ‘n motor van Johannesburg na Woodstock in Kaapstad vir ‘n konsert, en koop by ‘n vulstasie ‘n CD – Huisgenoot se Goue Treffers.  Wat aanvanklik bedoel was as ‘n gekskeer met ou musiek het vinnig ‘n ander wending geneem toe almal die liedjies op die CD woord vir woord begin saamsing en herinneringe uit hul kinderdae gedeel.

 

Dit was ‘n nostalgiese en ook ietwat van ‘n emosionele oomblik toe almal besef het dat die musiek wat op daardie oomblik in die motor speel, ‘n veel groter invloed op hul lewens en musieksmaak gehad het as wat hulle bereid was om te erken.

 

En so is die gedagte van OUDERDOOS gebore. ‘n Splinternuwe musiekgroep wat nie net lewe sou gee aan geliefde goue oues nie, maar ook brûe sal bou tussen verskillende generasies.

 

Vir 6 jaar lank sou die konsep van Ouderdoos as ‘n musiekgroep in verskeie mense se koppe maal en gestalte kry.  Uiteindelik in 2022 het Ouderdoos met mag en mening op die musiektoneel verskyn. Ouderdoos het gewys dat met harde werk is enige iets moontlik en dat hulle enige uitdaging kan klop!

Ouderdoos kyk met ‘n moderne oog na ouer liedjies en daavoor word hedendaagse tegnologie ingespan.  Die doelwit is om die liedjies en musiek te eer, nie te verander nie. 

 

Vandag is Ouderdoos ‘n Afrikaanse vermaaklikheids- en musiekgroep met die hutsmerk #niejougewonevastrap

 

Verbeel jou daar word gerock op liedjies soos Byeboerwa, Harlekyn, Die Oukraal Liedjie, Sarie Marais en Wie Kan Dit Verstaan.

 

Terwyl jou ouma nostalgies raak oor die goeie ou dae rock jy en jou pêlle saam op die beat!

Old School Afrikaans was nog nooit so aansteeklik soos wanneer een van die grootste geheime van die Suid-Afrikaanse musiek bedryf op ‘n verhoog klim nie.

 

“Ouderdoos is nie jou normale vastrap nie, en ons doen dit in Afrikaans. Ons rock en maak amok, ons maak die Ouderdoos weer relevant en blaas nuwe asem in liedjies waarvan mense lankal vergeet het”, vertel die groep.  

 

Die ore van tieners se ouers sal onmiddellik spits wanneer hulle die bekende note van liedjies hoor en mag dalk net in hul blêrkas gaan rond krap om die langspeelplaat van die oorspronklike liedjies te vind en te deel.

 

“Ons wil hê dat ‘n 15- en 75-jarige ewe lekker moet luister na ons musiek!”