
Derrich Gardner
Die stem agter die mikrofoon en die gesig voor die kamera.
Derrich Gardner kan nie stilsit nie. “Rooimiere” het die ou mense dit genoem… amper soos ‘n gesonde ADHD. Uiters nuuskierig en met ‘n wil om te leer en te doen, het hy ‘n baie wye belangstellingsveld wat wissel van tuinmaak, reis, diere, die bos, rekenaars, grafika, redigering, musiek, skryf, kreatiewe kuns, aanlyn werk, nuwe media, mense, fotografie, fiksheid en ‘n gesonde organiese lewe.
Die radio gogga het Derrich op Universiteit gebyt. Hy begin sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf by Radio Highveld in 1987 en sluit daarna aan by Jacaranda 94.2 en daarna RSG.
Sy gemak agter die mikrofoon het aan hom ook die geleentheid gebied om sy plek vol te staan in die televisiebedryf en hy het ‘n huishoudelike naam geword as kontinuïteitsaanbieder vir die destydse SABC 2. Hy werk later as veldaanbieder vir gewilde programme soos “Pasella” en “Kwêla” asook kykNET se “DKNT”, om maar enkeles te noem.
Agter die kamera was Derrich ’n medevervaardiger van ’n bekroonde dokumentêre TV-reeks oor die Grensoorlog. Die reeks was Derrich se breinkind. Later het meer musiekaanbieding en vervaardiging van musiekprogramme vir SAUK gevolg. Derrich het onlangs ‘n uiters suksesvolle derde seisoen van “Tuintoere” vir VIA aangebied. Met sy fotokamera in die hand neem hy kykers op ‘n reis van die wonderlikste tuine in Suid-Afrika, vertel die storie, neem foto’s en ontmoet die eienaars en ontwerpers.
Die talentvolle man is ook die persoon saam met wie Suid-Afrika elke Saterdag wakker word op die RSG ontbyprogram “Brêkfis met Derrich”.
Sy gewilde VAT 5 program maak hom baie geliefd onder ’n groot deel van die RSG luisteraars.
In Januarie 2022 het Derrich sy eerste solo uitstalling as fotograaf gedoen met die titel “Moods of Johannesburg. Die foto’s wat uitgestal is, het begin as sy “besig hou” tydens Covid-19 en die grendeltydperk in SA.
Sy professionaliteit en deeglikheid wanneer dit kom by werk as seremoniemeester besorg hom groot lof van organiseerders en verseker dat hy gereeld teruggenooi word deur kliënte.
Derrich is baie goed tweetalig en die perfekte keuse om ekstra glans aan enige funksie te verleen. Dit is daarom nie vreemd dat uitnodigings om as spreker by damesoggende en tuinbouklubs of as seremonimeester by korporatiewe funksies sy dagboek vol hou nie!